Deur die geskiedenis heen is Maria, die moeder van Jesus, met besondere agting bejeën. Dis ook reg so! God het haar gekies om die moeder van ons Here Jesus te wees. Maar voordat ons oor die belangrikheid van haar lewe gesels, laat ons nadink oor wat sy moes opoffer om hierdie opdrag te aanvaar. Woonagtig in ’n klein dorpie in Galilea waar almal mekaar geken het, moes sy saamlewe met die wete dat die mense almal sou dink dat sy ’n buiteegtelike verhouding gehad het. Om aan haar moeder te verduidelik wat gebeur het, dat die Heilige Gees haar besoek het, en die besoeke van die engel, sou beslis nie ’n verskil gemaak het nie. Om nie eers te praat watter geweldige omwenteling dit in haar planne om met Josef te trou, sou hê nie. En terwyl ons nou aan Josef dink – wat sou sy vir hom gesê het? Sou hy haar glo? In die lig van al hierdie persoonlike kwessies, was haar reaksie op die engel se aankondiging dat sy die moeder van Jesus sou wees, waarlik verbasend. “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het (Lukas 1:38). Haar woorde herinner ons daaraan dat ’n lewe wat aan God toegewy is en groot dade vir Hom doen, altyd voorafgegaan word deur ’n hart wat volkome aan Hom oorgegee is, ongeag wat dit mag vra. Watter belangrike ondervinding beplan die Here vir jou? Dit begin alles met ’n ware en volkome oorgawe aan Hom.