Wat verkwik jou die beste? ’n Koue drankie op ’n snikhete dag? ’n Rustige middagslapie? Om na goeie musiek en lofprysing te luister? In die Bybel het die tema “verkwikking” ’n verskeidenheid fisiese en geestelike betekenisse. Ons lees in Eksodus 23:12 dat onderhouding van die Sabbat ’n sekere mate van verfrissing bied. Koue water na heelwat fisiese aktiwiteite, bied ook verkwikking (Rigters 15:18-19). Strelende en kalmerende musiek (1 Sam. 16:23) en opbeurende geselskap met andere, kan ’n mens ook verfris. Die apostel Petrus beskrywe die tyd van geestelike verfrissing wat op Pinksterdag plaasgevind het. Hy het sy luisteraars opgeroep om hulle te bekeer en op die evangelie te reageer sodat daar “tye van verkwikking van die Here af” (Hand. 3:20) sal kom. Petrus se opmerking was veral belangrik vir sy Joodse luisteraars, met die verwysing na die duisendjarige ryk wanneer die Messias aan bewind sal wees. Maar die goeie nuus van geestelike verkwikking en die ewige lewe, sou ook aan die heidennasies geskenk word (Hand. 10). Selfs vandag kan ons, as gelowiges, ’n tyd van verkwikking beleef deur stil te word voor die Here, die Bybel te lees en te bid. Indien ons meer tyd alleen met die Here deurbring sal ons sy vreugde en vrede deur die Gees deelagtig word. Is jy nie dankbaar dat daaglikse tye van verkwikking vir ons moontlik is nie?