Ons gemeente se jongmense het hulle bes gedoen om ’n voorstelling van die hemel te maak. Dit was tyd vir die lentefees en die kreatiewe tieners het ligte, sponsrubber en ander materiale gebruik om die atrium in ’n voorstelling van die hemel te omskep. Die tema van die banket was I Can Only Imagine, uit die lied deur MercyMe. Ons dogter Melissa was een van dié jongmense wat gehelp het om die kerk te versier. Toe ek die ouditorium besoek het, was sy besig om sterre hoog in die lug te hang. Die aand toe die banket plaasgevind het, het ek en my vrou gehoor hoe een van Melissa se vriendinne die temalied sing en ons het almal gedink aan daardie wonderlike plek – die hemel. Natuurlik kon ons nie vir ’n oomblik daaraan dink, of dit moontlik ag, dat Melissa maar net ses weke later wel die hemel sou binnegaan nie. Die verbeeldingsvlug het realiteit geword. Jesus het gesê die hemel is ’n plek waar ons van ons probleme ontslae kan raak. Hy het gesê: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek … Ek gaan om vir julle plek gereed te maak” (Johannes 14:1-2). Die hemel is ’n plek wat vir voorbereide harte voorberei is. Dis ’n plek van ongelooflike skoonheid en heerlikheid. Dis waar die Here tans vir ons geliefdes sorg, en eendag ook vir ons. Stel jou voor hoe lyk die hemel en verheug jou!