In sy boek The First Man gee James Hansen ’n verslag van Niel Armstrong se vlug na die maan. Die skrywer verduidelik dat elke ruimtevaarder ’n verslag moes opstel na afloop van die vlug. Die verslag het vertel hoedat hulle vanaf Houston in Texas na Kaap Kennedy, Florida en die maan gereis het, vandaar na die Stille Oseaan, Hawaii en toe terug na Houston in Texas. Wat ’n ongelooflike lys van bestemmings! Maar daar is ’n toerplan wat enige ander reisplan in heerlikheid oortref. Dink net aan ons Verlosser, Jesus Christus, se reisplan. Waar kom Hy vandaan? Van hemelse oorde: Sy eerste bestemming – ’n krip in Betlehem; hoe het Hy gereis? Maagdelike geboorte. Die rede vir sy reis: Die verlossing van sondaars. En sy terugreis, bestemming – die regterhand van die Vader. Filippense 2:5-11 beskryf Christus se koms na die aarde om ons verlossing op wonderlike wyse te bewerkstellig. Een Bybelse kommentator beskou hierdie Skrifgedeelte as ’n lofsang tot eer van die lydende Dienskneg wat verhoog is vanweë sy gehoorsaamheid: “Christus Jesus … wat in die gestalte van God was … het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem. Hy was gehoorsaam tot in die dood … daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef (vs. 5-9). Ons Here se buitengewone reisplan van verlossing behoort ons harte met dankbaarheid en lofprysing te vervul!