Gedurende die wêreldwye finansiële krisis van 2008, het ’n weduwee ’n derde van haar inkomste verloor toe haar betroubare bank ineengestort het. Die Wall Street Journal het haar tranerige reaksie op die krisis aangehaal, omdat baie mense op soortgelyke wyse getref is: “’n Mens dink net. So iets kan mos nie gebeur nie? Wat is dan vandag nog seker?” Tragedies en moeilike tye ruk ons tot besinning. Ons beste planne en al die hoop wat ons koester, kan in een oomblik verpletter word, deur gebeure buite ons beheer. Ons word daaraan herinner dat daar net een ware sekuriteit in hierdie veranderende wêreld is. Ons lees Paulus se woorde met nuwe waardering: “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry” (1 Timoteus 6:17-19). Wanneer ons besittings verminder, kan ons ryker word deur die goeie dade wat ons doen, ons vrygewigheid en ons uitreik na ander in nood. En as finansiële stabiliteit weer terugkeer, onthou dan om nie daaraan vas te klou nie, maar op God te vertrou. In Hom alleen is ons veilig.