Is jou lewe te besig? Besigheidsverpligtinge, produksiekwotas en die heen en weer karwei van kinders na al hulle aktiwiteite kan regtig ’n mens se dagprogram baie vol maak. Dis maklik om te dink as ek nie al hierdie verantwoordelikhede gehad het nie, sou ek in ’n noue verhouding met die Here kon lewe. Nogtans toon C. S. Lewis aan dat niemand besiger is as wat ons Here hier op aarde was nie. “Ons model is dié Jesus … van die werkswinkel, die paaie, die skares, die voortdurende eise en teenkanting, die gebrek aan vrede en privaatheid, al die onderbrekings, want dit is hoe … die Goddelike lewe onder menslike omstandighede funksioneer.” Ons lees van Jesus in Kapernaum: “Toe dit aand geword het … het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. Hy het baie siekes … gesond gemaak” (Markus 1:32-34). Die volgende dag het Christus na ’n eensame plek gegaan om te bid. Daar het Hy die opdrag van sy Vader gekry om ’n veeleisende bediening op ’n ander plek te gaan hanteer. Ons Here het voortdurend met sy Vader gekommunikeer en op die Gees vertrou om deur Hom te werk. Het jy ’n veeleisende skedule? Volg die voorbeeld van ons Here Jesus en sit ’n spesifieke tyd opsy om te bid. Vertrou dan op die Here om jou te help om elke dag se vereistes te hanteer.