Die Israeliete het destyds in Gilgal byeengekom om hulle eerste koning, Saul, as koning te kroon (1 Samuel 11:15). Die Here was nie ingenome met die volk se besluit om ’n koning te vra nie, nogtans het Samuel hierdie woorde uitgespreek: “Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie. Die Here het besluit om julle sy volk te maak” (1 Samuel 12:22). Ons is ook God se “eie, spesiale mense” as ons Jesus Christus as Here en Verlosser aangeneem het (1 Petrus 2:9). Hy sal ons nie verlaat nie al weet Hy dat ons Hom sal teleurstel. Hy weet wat ons is – sondig, swak en feilbaar. Hy het dit geweet nog voordat Hy ons geroep en na Homself getrek het. Die sekerheid van ons verlossing berus nie op onsself nie, maar op die karakter van God (1 Johannes 5:20). Hy sal ons tot die einde bewaar. Dit gee ons egter nie die reg om aan te hou sondig nie. Paulus roep uit: “Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?” (Romeine 6:2). Ons keuses beïnvloed God se reputasie, ons getuienis teenoor die wêreld en ons gemeenskap met Hom. Maar een ding is seker: God sal nooit sy kinders in die steek laat nie, diegene wat waarlik aan Hom behoort. “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Hebreërs 13:5). Ons kan gerus wees! Diegene vir wie God red, sal Hy ook behou – ter wille van sy heilige Naam!