Wat ’n verskriklike probleem is besoedeling tog! Almal ly daaronder en tog dra almal van ons daartoe by. Besoedeling kan baie vorme aanneem, maar een tipe word gewoonlik nie maklik raakgesien nie en Charles Swindoll noem dit “verbale besoedeling”. Dit word gewoonlik deur dobbelaars, murmureerders, kritiseerders en skinderbekke rondgestrooi. “Die gif van pessimisme,” skryf Swindoll, “skep ’n negatiewe atmosfeer en dan word niks behalwe die slegte en negatiewe beklemtoon nie.” ’n Groep Christene het besorg begin word oor hierdie tipe besoedeling en hulle persoonlike aandeel daaraan. Toe onderneem hulle om vir ’n hele week nie ’n enkele negatiewe of kritiese woord te sê nie. Hulle was toe heel verbaas om te ontdek hoe min hulle daardie week vir mekaar te sê gehad het. Namate hulle met die eksperiment voortgegaan het, moes hulle naderhand nuwe kommunikasiemetodes aanleer. In Efesiërs 4 roep Paulus die gelowiges op om beslis op te tree en negatiewe woorde te vermy. Hy sê ons moet “breek met die ou sondige mens” en “lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is” (Efesiërs 4: 22,24). Namate ons op die hulp van die Heilige Gees vertrou (Galasiërs 5:16) kan ons daardie veranderinge in ons denke en optrede aanbring. As ons van verbale besoedeling ontslae wil raak, moet ons ’n definitiewe keuse uitoefen en God se hulp vra. Dis ’n doeltreffende manier waarop ons kan begin om ons geestelike omgewing op te ruim.