Ek en ’n paar vriende het gedink dat ons ’n rustige tydjie sou deurbring terwyl ons na ’n aantal kunswerke van die verlore seun wat na sy vader teruggekeer het, gaan kyk het (Lukas 15). Toe ons by die inligtingstafel kom, het ons brosjures, boeke en aanwysings gesien wat ons na die kunswerke heenwys. Op die tafel was daar ook ’n bord met brood, ’n servet en ’n glas. Ons het almal gewonder wat die betekenis van die bord kon wees. Het dit miskien op die nagmaal gedui en die gemeenskap tussen die vader en sy afgedwaalde seun? Maar toe ons meer noukeurig gekyk het, het ons skielik besef: iemand het ’n vuil bord op die tafel gelaat. En dit was nie brood nie, maar oorskiet koekies! Ons het die verkeerde afleiding gemaak. Ons het te heerlik vir mekaar gelag. Maar dit het my laat dink hoe dikwels ons meer in die Bybel inlees as wat daar in werklikheid gesê word. Ons moenie sommer aanneem dat ons afleidings korrek is nie, maar ons moet seker maak dat ons interpretasie met die res van die Bybel ooreenkom. Petrus het gesê: “Geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie” (2 Petrus 1:20). As ons op die leiding van die Heilige Gees vertrou, ’n baie noukeurige ondersoek van die konteks doen en die wysheid van gerespekteerde Bybelkenners in ag neem, sal dit verhoed dat ons dinge in die Woord sien wat nie regtig daar is nie.