Ek sal nooit my eerste ondervinding in ’n outomatiese motorwassery vergeet nie. Toe ek nadergery het, was ek al angstig, byna asof ek tandarts toe gaan. Gespanne het ek die vensters nagegaan – is alles behoorlik toe, en toe het ek gewag. Skielik het magte buite my beheer die motor laat beweeg en daar was ek, binne in die motor, terwyl water en seep die motor oorspoel het. Borsels vanuit alle rigtings het die motor geskrop. Benoud het ek gedink: Sê nou maar ek word hier vasgekeer, die motore breek, of die water dring die motor binne? En toe, meteens was die water weg. Na ’n droogblaas periode was my motor weer buite skoon en blink Te midde van al hierdie dinge, het ek teruggedink aan tye in my lewe toe dit vir my gevoel het asof ek op ’n vervoerband was, ’n slagoffer van magte buite my beheer. Ek noem daardie gebeurtenisse nou “motorwassery ondervindinge”. Ek onthou egter dat elke keer wanneer ek deur die waters gegaan het, was die Here by my en het Hy my teen die stygende gety beskerm (Jesaja 43:2). En elke keer wanneer ek aan die ander kant van so ’n gebeurtenis beland het, kon ek met dankbaarheid uitroep: “Hy is ’n getroue God!” Verkeer jy tans in ’n motorwassery ondervinding? Vertrou die Here om jou veilig anderkant uit te bring. Dan sal jy ’n skynende lig en ’n getuie vir Hom kan wees – Hy wat jou veilig deurgedra het.