Gedurende die stilte van my laaste lewensjare wil ek graag kyk hoe ’n boom groei – ’n berkeboom wat ek 30 jaar gelede geplant het. Dit staan nou daar, uitgegroei, net buitekant ons venster – pragtig, elke seisoen van die jaar. So is dit ook met ons geestelike pogings gesteld: Ons het miskien gewroeg, gebid en geworstel oor die plantjies wat ons geplant het (diegene wat ons gementor het), maar dis net die Here wat ’n “boom” van hulle kan maak. Af en toe is ek bevoorreg om te hoor van persone vir wie ek jare gelede ’n mentor was. Dan is dit vir my ’n groot vreugde om te hoor dat hulle tot volwassenheid gegroei het en dat hulle deur die Here gebruik word. Dit herinner my daaraan dat ek kan plant en natgooi en ander help om “in alle opsigte … na Christus toe [te groei]” (Efesiërs 4:15). Maar dis God alleen “wat laat groei” (1 Korintiërs 3:6-7) en die seën op die arbeid gee. Die Duitse teoloog, Helmut Thielicke, skryf: “Die persoon wat nie weet om te laat staan nie, wat nie die stille vertroue het in Hom, wat sy doel sonder ons hulp bereik en die bome laat groei (met ons of ten spyte van ons), daardie man sal in sy oudag ’n betreurenswaardige skepsel wees.” Dus kan ek nou, in my later jare, nog ’n plantjie versorg, maar in die meeste gevalle sal ek laat staan en rustig toekyk hoe hulle groei en vanself volwassenheid bereik.