Een van my vriende het die geleentheid om elke winter die Super Bowl wedstryde as joernalis by te woon. Sy opdrag is om onderhoude met Christen atlete en sportmanne te voer. Hy moet ook die personeel van die Nasionale Sokkerliga nader om Christelike radioprogramme te reël. Toe hy ’n paar jaar gelede die eerste groot wedstryd bygewoon het, het hy gou ontnugter en teleurgesteld gevoel oor die selfsugtige, plesiersoekende atmosfeer wat gedurende die Super Bowl week geheers het. “Ek het dit as ’n baie donker plek beleef,” het hy gesê. Eendag het hy met ’n speler wat voorheen aan die NFL wedstryde deelgeneem het en ’n Christen was, gepraat. Die atleet het my vriend aangekyk en ernstig gesê: “My broer, jy moet die lig in daardie donker plek wees.” Daardie opmerking het my vriend daaraan herinner waarom die opdrag aan hom gegee is en hy daar diens moes doen. Dit het hom aangemoedig om sy lig vir Jesus te laat skyn. Miskien werk jy ook in ’n omgewing waar die Here nie erken of eerbiedig word nie en geloof in Christus bespot word. Miskien voel jy dat jy in ’n “baie donker” plek verkeer. Wil jy nie die lig wees nie (Efesiërs 5:8) deur jou glimlaggies, vriendelikheid, hulpvaardigheid en harde werk? Vra God om jou geleenthede vir getuienis te gee sodat jy ander van Jesus kan vertel. Jy mag dalk die liggie wees wat ’n medewerker na Jesus heenwys.