Het jy al ooit lus gevoel om sommer net op te gee? Elia het! God het hom pas gebruik om aan die volk Israel te wys dat Hy alleen God is (1 Konings 18). Nogtans het die dreigemente van koningin Isebel hom so met vrees vervul dat hy na Berseba in Juda gevlug het, meer as 200 kilometers verder suid. Daarna het hy nog kilometers ver suidwaarts gestap tot by Horeb, die berg van God. God het Elia by twee geleenthede gevra wat hy besig was om daar te doen (vs. 9,13). Hy het albei vrae met presies dieselfde woorde beantwoord: “Ek alleen het oor-gebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring” (1 Konings 19:10,14). Hy was so oorweldig deur sy vrese dat hy vergeet het wat die Here op berg Karmel gedoen het. Ten spyte van die groot oorwinning wat daar plaasgevind het, was Elia moedeloos. En dis so maklik dat dit ook met ons kan gebeur. God het egter nie Elia se bedanking aanvaar nie. In stede daarvan het Hy aan sy moeë dienskneg drie verdere opdragte gegee (vs. 15-17). En terloops, Elia was verkeerd toe hy gesê het dat hy alleen oorgebly het. God het gesê Hy het nog 7000 ander wat die knie voor Baal nie gebuig het nie (vs. 18). Miskien voel jy vandag moedeloos vanweë omstandighede in jou lewe. Laat God met jou praat en jou bemoedig (vs. 12). Hy sal jou nie toelaat om op te gee nie, maar aan jou toon waartoe jy in staat is deur die krag wat Hy gee.