Stel jou voor jy is op besoek in ’n vreemde land en jy arriveer ongenooid by ’n groep mense wat jou nie ken nie en nog nooit van jou gehoor het nie. Na slegs ’n paar minute vra hulle jou om hulle toe te spreek. Dit kan slegs gebeur as iets die skeidsmure afbreek – as gemeenskaplike vriende die deur oopmaak. Dit het met my gebeur toe ek ’n sendinggroep na Discovery Bay in Jamaika geneem het. Voordat ons die VSA verlaat het, het my vriend, Dorant Brown, ’n Jamaikaanse pastoor, my aangeraai om ’n sekere kerk te besoek. Toe ons by die kerk opdaag, het ek die naam van pastoor Brown genoem, en onmiddellik is ons nie net hartlik verwelkom nie, maar ek is gevra om iets te sê en die groep om vir hulle te sing. Alhoewel Dorant se naam belangrik was om deure oop te maak, dink ek nie dat dit net daardie gemeenskaplike vriend was wat so ’n hartlike ontvangs bewerkstellig het nie. Nee, ek dink ons gemeenskaplike vriend, Jesus, is die een wat ons Jamaikaanse vriende se harte vir ons oopgemaak het. Het jy al ooit met iemand kennis gemaak en sommer dadelik ’n band aangevoel wanneer jy hulle van Jesus vertel? Hy is die Vriend wat sy lewe vir ons afgelê het (Johannes 15:13) en Hy maak ons broers en susters van ander gelowiges (1 Petrus 2:17). Jesus! Ons Verlosser! Ons gemeenskaplike Vriend. Hy verbind harte wêreldwyd aan mekaar onder die banier van sy liefde.