Daar het eenmaal ’n wyse Sjah in Persië regeer. Die volk was baie lief vir hom. Eendag het hy homself as ’n arm man voorgedoen en na die publieke baddens gegaan. Die water is verwarm deur ’n stookoond onder in die kelder. Die Sjah het by die man gaan sit wat die vuur gestook het, vriendskap betoon, en hom dag na dag gaan besoek. Die werker het aangetrokke gevoel teenoor die vreemdeling wat soveel deernis aan hom betoon het en “na hom toe gegaan” het (Luk 10: 34). Die Sjah het verwag die man sou ’n geskenk vra wanneer hy sy ware identiteit aan hom openbaar. Maar in plaas daarvan het hy met liefde na sy leier gekyk en gesê: “U het die paleis en u heerlikheid verlaat en hier by my in hierdie donker plek kom sit. U het my eenvoudige kos geëet. Aan ander het u miskien duur geskenke gegee, maar aan my het u uself gegee.”
As ons dink aan wat die Here vir ons gedoen het, kan ons ook hierdie vuurstoker se woorde beaam. Jesus het vanaf sy hemelse heerlikheid na die aarde gekom; vanaf die lofprysing van engele na die bespotting van mense, van eerbied na veragting – dit het Hy vir ons gedoen. Om ons te red, het Hy die gestalte van ’n dienskneg aangeneem en “Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis” (Filip. 2:8). Ons Skepper het ons Verlosser geword. Hy is ons hartgrondige lofprysing en aanbidding waardig.