Richard D. Wood het in Outreach, ’n publikasie van die Oosterse Sendinggenootskap ’n interessante artikel geskrywe. Daarin stel hy die diepgaande vraag in verband met ons motiewe om sendingwerk te ondersteun. Hy sê toeriste keer dikwels terug vanaf Haiti en sê: “O die Here het my hart gebreek vir sending in Haiti.” Maar hy wonder of dit nie die fisiese armoede was wat hulle geraak het nie, in plaas van die geestelike nood. Was die gebrek aan brood dit wat hulle aangegryp het, of die behoefte aan die Brood van die Lewe – die Woord van die Seun van God?
Mnr. Wood besef dat die feit dat mense gebrek aan brood het moontlik God se manier mag wees om ons oë ook vir die geestelike nood in die wêreld oop te maak. Maar hy wonder soms of dieselfde mense ooit sou uitroep: “God het my hart in die voorstede gebreek.” Sou die goedversorgde grasperke, duur huise en goedgeklede mense ooit dieselfde reaksie ontlok. Die evangelie is nodig vir diegene in gesiene woonbuurtes sowel as dié in krotwoonbuurtes. Die karakter van God en die geestelike nood van die mensdom – nie ons gevoelens en gedagtes nie – is die regte motiewe vir sendingwerk.
Elke mens, ongeag armoede of rykdom, het die evangelie van Christus nodig. Daarom moet elkeen van ons alles in ons vermoë doen om die boodskap uit te dra; in die oerwoude, maar ook in welgestelde woonbuurtes. – Richard De Haan