My Kersfees in my oupa se huisie naby Sakogu in die noorde van Ghana, was die eensaamste nog. Ek was 15 jaar oud en my ouers en sibbes was ’n duisend kilometer daarvandaan. Die vorige jare saam met hulle en my dorpsvriende, was Kersfees altyd ’n groot en onvergeetlike gebeurtenis. Dié Kersfees was dit egter stil en eensaam. Vroeg Kersoggend, op my vloermatjie, het ek ’n plaaslike liedjie onthou: Die jaar is verby en Kersfees is hier. Die Seun van God is gebore, vrede en vreugde vir almal. Ek het dit oor en oor gesing.

My ouma het kom vra: “Wat sing jy?” Sy en my oupa het niks van Kersfees of Christus geweet nie. Ek het hulle die bietjie wat ek van Kersfees geweet het,  vertel. In daardie oomblikke was my eensaamheid ligter.

Dawid, die skaapwagtertjie, het daar waar hy alleen in die velde met net die skape en soms roofdiere was, eensaamheid geken. Dit was nie net tóé nie. Hy het later in sy lewe geskryf: “… ek is eensaam en verstote” (Ps. 25:16). Dawid het egter nie toegelaat dat eensaamheid die oorsaak sou wees dat hy wanhopig word nie. Juis daarom het hy gesing: “… by U skuil ek … op U vertrou ek” (vs. 20-21).

Ons kry almal van tyd tot tyd met eensaamheid te doen. Waar jy jou ook al hierdie Kersfees bevind, alleen of saam met ander, kan jy dit saam met Christus geniet.