Kamil en Joelle was verslae toe hul agtjarige dogter Rima met leukemie gediagnoseer is. Sy het meningitis gekry en daarna ’n beroerte, waarna sy in ’n koma verval het. Met minder as 1% kans op oorlewing, het die mediese span haar ouers aangeraai om begrafnisreëlings te tref.
Die ouers het om ’n wonderwerk gebid. “Wanneer ons bid,” het Kamil gesê, “moet ons God, ongeag wat ook al, vertrou en soos Jesus bid: Nie My wil nie, Vader, maar U wil.” “Ek wil so graag hê dat God haar gesond maak!” het Joelle eerlik erken. “Ja! En ons moet vra,” het Kamil gesê, “maar ons eer God wanneer ons – al is dit hoe moeilik – onsself aan Hom gee, want dit is wat Jesus gedoen het.”
Voor Jesus gekruisig is, het Hy gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg … nogtans nie my wil nie maar u wil …!” (Luk. 22:42.) Met “neem tog hierdie …beker” het Jesus gevra om nie gekruisig te word nie, tog het Hy het Hom in liefde aan die Vader onderwerp.
Dis nie maklik om ons begeertes aan God oor te gee nie, en in uitdagende omstandighede kan dit moeilik wees om Sy wysheid te verstaan. Kamil en Joelle se gebede is op ’n merkwaardige manier verhoor – Rima is vandag ’n gesonde vyftienjarige.
Jesus verstaan elke worsteling. Selfs toe Sy versoek om ons onthalwe nie geslaag het nie, het Hy gewys hoe ons God met elke behoefte kan vertrou.