“Hoop jy steeds op vrede?” het ’n joernalis in 1984 vir Bob Dylan gevra.

“Daar gaan geen vrede wees nie,” het hy geantwoord. Hoewel sy antwoord kritiek uitgelok het, kan ons nie ontken dat vrede ons bly ontwyk nie.

Byna 600 jaar voor Christus het die meeste profete vrede voorspel. Nie God se profeet nie! Jeremia het die mense herinner dat God gesê het: “Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees” (Jer. 7:23). Tog het hulle die Here en Sy bevele bly ignoreer. Hul vals profete het gesê: “Alles is reg! Alles is reg!” (8:11), maar Jeremia het rampe voorspel. Jerusalem het in 586 v.C. geval.

Vrede is iets raars. Tog ontmoet ons midde-in die verskriklike profesieë in die boek Jeremia ’n God wat onverbiddelik liefhet. “Ek het jou nog altyd liefgehad,” sê Hy vir Sy rebelse volk, daarom sal Hy hulle weer voorspoed gee (31:3–4).

God is ’n God van liefde en vrede. Konflik is die gevolg van ons rebellie teen Hom. Sonde verwoes wêreldvrede en steel ons innerlike vrede. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus,” skryf Paulus (Rom. 5:1). Sy woorde is ’n bron van diepe vrede.

Christus nooi ons in Sy vrede in – of ons in ’n oorlogsone of in ’n rustige woonbuurt sonder enige sweempie van geweld woon.