Gevoelens van onwaardigheid en skaamte het jarelank byna my hele lewe negatief beïnvloed. Sê nou ander hoor van my reputasie? Met God se hulp het ek ’n kerkleier vir ete genooi, tog wou ek perfek voorkom. My huis was silwerskoon, ’n driegangmaaltyd gereed en ek was in my beste klere.
Ek is gou na buite om ’n kraan toe te draai en het gegil toe ’n stroom water my tref. Met halfdroë hare en besmeerde grimering het ek ’n sweetpak aangetrek toe die deurklok lui. Gefrustreerd het ek vertel van my werk en motiewe die oggend. My nuwe vriendin het van háár stryd teen vrees en onsekerheid vanweë skuldgevoelens oor mislukkings vertel. Ons het gebid, en sy het my in haar span van onvolmaakte dienaars verwelkom.
Die apostel Paulus het sy nuwe lewe in Christus aanvaar en geweier om sy verlede te ontken of dat dit hom pootjie in sy diens aan die Here (1 Tim. 1:12–14). Hy het geweet dat Jesus se offer aan die kruis hom – die grootste van alle sondaars – verlos en verander het, daarom het hy God geprys en ander aangemoedig om Hom te eer en te gehoorsaam (vv. 15–17).
Wanneer ons God se genade en vergifnis aanvaar, word ons van ons verlede bevry. Omdat ons onvolmaak is maar innig bemin word, is daar geen rede waarom ons ons vir ons ware self moet skaam terwyl ons ander met ons Godgegewe gawes dien nie.