Die bloed het geloop toe ’n doring in my wysvinger steek. Ek het gegil en toe met ’n kreun my vinger instinktief weggeruk. Ek behoort nie verbaas te gewees het nie – om ’n doringbos sonder handskoene te probeer snoei, was ’n uitnodiging vir wat pas gebeur het.
Die pyn wat in my vinger geklop het asook die bloed wat daaruit gevloei het, het my aandag vereis. Terwyl ek na ’n verband gesoek het, het ek onverwags aan my Verlosser gedink: soldate het Hom geforseer om ’n algehele doringkroon op te sit (Joh. 19:1–3). As een doring soveel pyn kan meebring, hoeveel te meer nie die ondraaglike pyn wat ’n hele kroon veroorsaak nie! Daarby is dit slegs ’n deeltjie van die fisieke pyn wat Hy verduur het. ’n Sweep het Sy rug oopgekloof. Spykers is deur Sy polse en enkels gekap. En ’n spies het Sy sy deurboor.
Jesus het ook geestelike pyn verduur: “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom …” (Jes. 53:5). Die “vrede” waarvan Jesaja praat, verwys na vergifnis. Jesus het toegelaat dat Hy deur ’n swaard, spykers en ’n doringkroon deurboor word om vrede tussen ons en God te bring. Sy offer, Sy bereidheid om namens ons te sterf, het die weg berei tot ’n verhouding met God. En: Hy hét dit gedoen, só sê die Skrif, vir my, en vir jou!