Voordat ons kinders gehad het, het niemand my vertel hoe belangrik sang sou wees nie. My kinders is tans 6, 8 en 10, maar vroeër het hulle gesukkel om aan die slaap te raak.  Ek en my vrou het snags beurte gemaak om ons kleintjies te wieg en gebid dat hulle gou aan die slaap sou raak. Ek het hulle baie ure lank gewieg en desperaat wiegeliedjies geneurie met die hoop dat dit die slaapproses sou aanhelp. Terwyl ek aand ná aand vir hulle gesing het, het iets wonderliks gebeur: my band van liefde vir en vreugde in hulle het sterker geword op maniere waarvan ek nooit kon droom nie.

Weet jy dat die Skrif vertel dat ons hemelse Vader ook oor Sy kinders sing? Net soos wat ek my kinders met sang wou sus, so sluit Sefanja af met ’n beeld van ons hemelse Vader wat oor Sy mense sing. “Hy is vol vreugde oor jou … in sy liefde … jubel (Hy) … oor jou” (3:17).

Die boek van Sefanja waarsku grotendeels oor die komende oordeel oor elkeen wat God verwerp. Tog is dit nie waar die profesie eindig nie. Sefanja sluit nie met oordeel af nie, maar met ’n beskrywing van God wat nie net Sy mense van hul lyding verlos nie (vv. 19–20), maar hulle ook liefhet en singend oor hulle jubel (vs. 17).

Ons God is nie slegs “’n krygsman wat red” en herstel nie (vs. 17), maar ’n liefdevolle Vader wat liefdesliedere oor ons sing.