Die angstige vrou het die kleinste kinders gegryp en uit die brandende huis gestorm terwyl sy hard na die vyfjarige Jacky roep.

Jacky het egter nie gevolg nie. Buite het ’n omstander vinnig opgetree: op die skouers van ’n vriend het hy Jacky vanuit die boonste venster na veiligheid getrek – net voordat die dak meegegee het. Susanna, sy ma, het gesê hy was “’n stuk hout wat uit die vuur gered is.” Jy eien dalk daardie “hout” as die bekende rondgaande evangelis John Wesley (1703–1791).

Susanna Wesley het Sagaria – ’n profeet wat waardevolle insig in God se karakter bied – aangehaal. Hy vertel van die gesig van ’n hofsaal waarin Satan langs Jesua die hoëpriester staan (3:1). Satan kla Jesua aan, maar die Here bestraf hom: “Hierdie man is soos ’n stuk hout wat uit die vuur gered is” (vs. 2). Vir Jesua sê Hy: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek” (vs. 4).

Daarna bied die Here vir Jesua ’n uitdaging én ’n geleentheid: “As jy lewe soos Ek dit wil, as jy die voorskrifte vir my diens onderhou, sal jy die gesag hê oor my huis …” (vs. 7).

Dít is ’n beeld van die geskenk wat God ons gee deur ons geloof in Jesus! Hy gryp ons uit die vuur, maak ons skoon en werk in ons soos wat ons die leiding van Sy Heilige Gees volg. Ons is God se hout wat uit die vuur gered is.