In Emily Bronte se roman: Wuthering Heights, word die iesegrim wat dikwels die Bybel aanhaal om ander te kritiseer, beskryf as “die uitputtendste selfvoldane Fariseër wat al ooit die Bybel beroof het om die beloftes vir homself toe te eien en die vloeke na sy medemens te slinger.”

Dis snaaks, ja, en herinner ons selfs aan sekere mense. Is ons egter nie almal maar so nie – geneig om ander se foute te veroordeel en ons eie te verskoon?

Die Skrif vertel van mense wat, verstommend, presies die teenoorgestelde gedoen het. Hulle was bereid om God se beloftes aan hulle prys te gee en self vervloek te word as dit ander sou red. Moses het gevra dat God liewer sy naam uit Sy boek vee as dat Hy nie die Israeliete vergewe nie (Eks. 32:32). Paulus sou eerder “afgesny van Christus” wou wees as dit sou lei dat sy volksgenote Hom vind (Rom. 9:3).

Ons is van nature selfvoldaan, tog lig die Skrif dié uit wat ander liewer het as hulself.

Want so ’n liefde dui uiteindelik na Jesus. Hy leer: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh. 15:13). Jesus het ons “tot die uiterste toe liefgehad” (13:1) – selfs nog voor ons Hom geken het. Hy het Ja gesê  om te sterf om ons die lewe te gee.

Ons word nou in God se huisgesin ingenooi sodat ons só kan liefhê en bemin word (15:9–12). En solank ons Christus se onvoorstelbare liefde in ander uitstort, sal die wêreld iets van Hom raaksien.