Toe ek eendag na werk tuis kom, het ek ’n paar hoëhakskoene langs die oprit sien lê. Ek het natuurlik geweet aan wie dit behoort. Daarom het ek die skoene in die motorhuis gesit sodat ek hulle aan my dogter, Lisa, kon gee wanneer sy die kinders kom oplaai. Dit het egter geblyk dat dit nie Lisa of enigiemand anders in die huis se skoene was nie. Toe sit ek hulle maar terug langs die oprit. Die volgende dag was die skoene weg.

Het jy geweet dat Paulus van iets geheimsinnig in sy briewe geskryf het? Maar die geheimenis wat hy beskryf het was baie meer as net “wonder wie het dit gedoen.” In Efesiërs 3 praat Paulus van ’n geheimenis wat “nooit tevore aan die mensdom bekend gemaak” is nie (vs. 5). Die geheimenis is dat, alhoewel God Homself in die verlede deur Israel openbaar het, nou, deur Jesus, selfs nie-Jode “saam met ons [kan] deel aan wat God belowe het” (vs. 6).

Dink net wat dit beteken: almal wat Jesus as Verlosser vertrou, kan nou saam as ’n eenheid God liefhê en dien. As gelykes kan ons “met vrymoedigheid en vertroue na God gaan” (vs. 12). Deur die eenheid van die kerk sal die wêreld dan die wysheid en goedheid van God sien (vs. 10).

Prys God vir ons verlossing. Soos wat mense van verskillende agtergronde een word in Jesus, word die geheimenis van eenheid vir ons ontsluit.