Dit kan soms uitputtend wees om die regte ding te doen. Ons mag dalk wonder: Maak my goedbedoelde woorde en handelinge enige verskil? Hierdie gedagte het onlangs by my opgekom nadat ek ’n, volgens my, aanmoedigende e-pos aan ’n vriend gestuur het. Tog het dit eerder ’n kwaai antwoord ontlok. Hoe kon ek so misverstaan word?

Voordat ek uit woede kon reageer, het ek onthou dat ons nie altyd die verlangde resultate sal sien as ons iemand van die liefde van Jesus vertel nie. As ons aan ander goed doen in die hoop om hulle na Hom te trek, mag hulle ons dalk verstoot en ons nederige pogings mag dalk geïgnoreer word.

Wanneer ons deur iemand se reaksie op ons goedbedoelde pogings ontmoedig word, is dit goed om na Galasiërs 6 te blaai. Paulus moedig ons in hierdie skrifgedeelte aan om ons motiewe te oorweeg – om ons doen en late te ondersoek – in dit wat ons sê en doen (vv. 1–4). As ons dit gedoen het, moedig hy ons aan om te volhard: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen” (vv. 9–10).

God wil graag dat ons sal aanhou om vir Hom te leef. Dit sluit in om vir ander te bid en vir ander van Hom te vertel. Hy sal sorg vir die resultate.