Ek het gister ’n vliegtuigkaartjie vir my oudste kind, wat op pad is kollege toe, gekoop. Na al die trane wat ek in die proses op my rekenaar gestort het, is ek verbaas dat dit nog werk. Dit was wonderlik om die afgelope agtien jaar daagliks saam met haar te kon wees. Nou staan sy op die punt om te vertrek en my hart is seer. Tog sal ek haar nie van die geleentheid wat vir haar voorlê ontneem, net omdat ek haar gaan mis nie. Op hierdie stadium van haar lewe is dit gepas dat sy haar reis na volwassenheid begin.
Soos wat hierdie seisoen van ouerskap tot ’n einde kom, begin daar ’n nuwe een. Dit sal ongetwyfeld sy eie uitdagings en blye tye oplewer. Salomo, Israel se derde koning, het in Prediker 3:1 geskryf: “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd.” Ons as menslike wesens het min beheer oor die verloop van ons lewens … al sien ons die verloop as gunstig of nie. Maar ons almagtige God “het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd” (vs. 11).
Ons kan God vertrou om ook op die regte tyd iets goeds uit tydperke van hartseer voort te bring. So kan seisoene van troos en blydskap kom en gaan, maar God se werke is blywend (vs. 14). Ons mag dalk nie elke tydperk geniet nie – party kan redelik pynlik wees – tog kan Hy skoonheid aan elkeen gee.