Charles Spurgeon was in die 1800’s, ’n baie bekende prediker in Engeland. Tydens sy jarelange bediening by sy kerk in Londen was hy baie lief om oor die rykdom van Jesaja 49:15,16, waar God sê “Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer” te preek. “Daar moet honderde kere oor ’n teks soos hierdie gepreek word!” het hy gesê. Hierdie gedagte is so kosbaar, ons kan dit oor en oor in ons gedagtes herhaal.

Spurgeon vind hier ’n wonderlike aansluiting tussen God se belofte aan Sy mense, die Israeliete, en Sy Seun, Jesus, aan die kruis waar Hy besig was om vir ons te sterf. Spurgeon het gevra: “Wat is hierdie wonde in U hande? … Die graveerder se gereedskap was ’n spyker en ’n hamer. God se Seun moet aan die kruis vasgenael word sodat Sy mense waarlik in die palms van Sy hande gegraveer kan wees.” Soos wat God belowe het om die name van Sy mense in die palms van Sy hande te graveer, so het Jesus Sy arms aan die kruis uitgestrek en die spykers in Sy hande ontvang sodat ons van sonde vrygemaak kan wees.

As en wanneer ons ooit in die versoeking kom om te dink dat God ons vergeet het, kan ons maar net na ons handpalms kyk om God se beloftes te kan onthou. Hy het onuitwisbare merke in Sy hande vir ons geplaas. Dit is hoe lief Hy ons het.