Terwyl ons tydens ’n Bybelskoolprogram verversings aan die kinders uitgedeel het, het ons opgemerk dat een seun sy verversings baie vinnig verslind. Daarna het hy dit wat deur ander agter gelaat is, ook opgeëet. Selfs nadat ons aan hom ’n sakkie springmielies gegee het, was hy nog nie tevrede nie.
Ek het daaraan gedink dat, as dit by emosies kom, ons net soos daardie seun is. Ons soek na maniere om ons diepste hunkering te bevredig maar vind nooit enige tevredenheid nie.
Die profeet Jesaja nooi ons wat honger en dors is uit om te “kom, koop en eet” (Jesaja 55:1). Maar dan vra hy: “Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie versadig nie?” (vs. 2). Jesaja praat hier van meer as net fisiese honger. God kan ons geestelike en emosionele honger deur die belofte van Sy teenwoordigheid bevredig. Die “ewige verbond” waarna Hy in vers 3 verwys, herinner ons aan ’n belofte wat God aan Dawid in 2 Samuel 7:8–16 gemaak het. Uit Dawid se geslagslyn sou’n Verlosser kom wat mense weer aan God sal verbind. Later, in Johannes 6:35 en 7:37, bied Jesus dieselfde uitnodiging van Jesaja aan en identifiseer Hy daardeur Homself as die Verlosser soos deur Jesaja en ander profete voorspel.
Honger? God nooi jou uit om deur Sy teenwoordigheid vervul te word.