NASA het in 2011 dertig jaar se ruimtenavorsing gevier. In hierdie drie dekades het ruimte pendeltuie (shuttles) meer as 355 mense die ruimte in vervoer en gehelp met die bou van ’n internasionale ruimtestasie. NASA het nou, na die onttrekking van vyf van die pendeltuie, sy fokus na diep-ruimteverkenning verskuif.

Massiewe bedrae geld en baie tyd is in die studie van die omvang van die heelal belê. Sommige ruimetevaarders het selfs hulle lewens opgeoffer. Die bewyse van God se majesteit strek egter baie verder as dit wat ons kan meet.

As ons aan die Beeldhouer en Onderhouer van die heelal dink, Hy wat die naam van elke ster ken (Jesaja 40:26), kan ons verstaan hoekom Dawid God se grootsheid in die Psalms besing (Psalm 8:2). Sy vingerafdrukke is op “die maan en sterre waaraan [Hy] ’n plek gegee het” (vs. 4). Die Skepper van die hemel en aarde regeer geheel en al. Tog bly Hy naby Sy geliefde kinders terwyl Hy vir elkeen intiem en persoonlik sorg (vs. 5). In Sy liefde beklee Hy ons met groot krag, verantwoordelikheid en die voorreg om die wêreld wat Hy aan ons toevertrou het te versorg en te verken (vv. 6–8).

Terwyl ons die ster- belaaide nagtelike hemelruim aanskou, nooi die Skepper ons uit om Hom met passie en volharding te soek. Hy hoor elke gebed en loflied wat oor ons lippe kom.