Ons hoor dikwels die filosofie dat ons gelukkig sal wees wanneer ons ons eie kop volg. Dis egter nie waar nie. Daardie lewensuitkyk lei net tot leegheid, angstigheid en hartseer.
Die digter W. H. Auden het na mense gekyk wat in genietinge probeer ontsnap het. Hy skryf oor hulle: “Verlore in ’n spookagtige woud / Kinders bang vir die nag / Wat nooit gelukkig of gehoorsaam was nie.”
Die psalmis Dawid sing oor die geneesmiddel vir ons vrese en ongelukkigheid: “Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare” (Psalm 34:5). As ons gelukkig wil wees, moet ons dinge op God se manier doen. Dít is ’n waarheid wat elke dag getoets kan word. “Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap,” skryf Dawid (vs. 5). Doen dit net en jy sal sien! Dít is wat dit beteken wanneer hy sê: “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” (vs. 8).
Ons sê: “Sien is glo!” Dít is hoe ons ons wêreld leer ken. Wys my, en ek sal dit glo. God stel dit egter andersom. Glo, en sien! Kom … en dan sal jy sien!
Glo wat die Here in Sy Woord sê. Doen wat Hy van jou vra, en jy sal sien. Hy sal jou die genade gee om die regte ding en nog meer te doen. Hy sal Homself gee – die enigste bron van goedheid – asook blywende geluk.