My kleinseuns wil graag self aantrek. Soms trek hulle die hemde agterstevoor aan, en soms trek die jongste sy skoene verkeerdom aan. Ek het egter nie die moed om hulle reg te help nie, en, buitendien, hul onskuld ontroer my.

Ek kyk graag deur hulle oë na die wêreld. Alles is vir hulle ’n avontuur, soos om oor die lengte van ’n boomstam op die grond te loop, of die skilpad wat op ’n stomp sonbaai, dop te hou, of opgewonde te kyk na ’n brandweerwa wat loeiend verbyjaag. Ek weet dat selfs my kleinseuns nie werklik onskuldig is nie. Hulle kan vinnig ’n hele paar verskonings aanbied oor waarom hulle nie snags in hul beddens kan bly nie, of ewe vinnig ’n speelgoedding uit die ander se hande gryp. Nietemin, ek het hulle lief.

Ek stel my voor dat Adam en Eva in sekere opsigte nes my kleinkinders is. Hulle moet hulle verwonder het aan alles in die tuin terwyl hulle saam met God gewandel het. Tot op die dag wat hulle moedswillig oortree het. Hulle het van die verbode boom geëet (Gen. 2:15–17; 3:6). Daardie ongehoorsaamheid het tot leuens en beskuldigings gelei (3:8–13).

Nogtans het God hulle liefgehad en hulle versorg. Hy het diere geoffer om vir hulle klere te gee (vs. 21), en nog later het Hy ’n weg van verlossing vir alle sondaars voorsien deur die offer van Sy Seun (Joh. 3:16) . So lief het Hy ons!