As ’n amateurfotograaf geniet ek dit om grepe van God se kreatiwiteit op my kamera vas te vang. Ek sien Sy vingerafdrukke op elke fyn blomblaartjie, elke lewendige sonsopkoms en -ondergang, en elke wolkgetinte en sterbelaaide hemelruim.
Met my kamera se sterk zoem-aksie neem ek God se unieke skepsels af: die kletsende eekhoring in die kersieboom, ’n kleurryke vlinder wat blom ná blom besoek, seeskilpaaie wat op ’n rotsagtige, swart strand lê en bak. Elke unieke prentjie dring my om my Skepper te aanbid.
Baie ander loof God terwyl hulle Sy unieke skeppingswerk bewonder. Die digter sing van die vele kunswerke van die Here in die natuur (vs. 24). “Daar is die see, groot en wyd, wat wemel van diere, klein en groot” (vs. 25). Hy verbly hom in God se voortdurende en algehele sorg vir Sy meesterstukke (vv. 27–31). En kyk hy na die majesteit van die Godgegewe lewe om hom, loop sy gemoed oor in aanbiddende dankbaarheid: “Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is” (vs. 33).
Terwyl ons nadink oor die Here se manjifieke en geweldige skepping, kan ons Sy doelbewuste kreatiwiteit en aandag aan detail bewonder. Dan sal ook ons met dankbare lof van ons Skepper kan sing – oor hoe magtig, majestueus en liefdevol Hy is en altyd sal wees. Halleluja!