Die lewe raak soms besig: moeilike klasse, uitputtende werk, die badkamer moet opgeruim word en ’n koffieafspraak voltooi die dag se skedule. Dit raak so erg dat ek my moet dwing om net ’n paar minute lank die Bybel te lees en myself te verseker dat ek volgende week meer tyd saam met God sal deurbring. Dit duur egter nie lank nie of my aandag word afgelei, die dagtake oorweldig my en ek vergeet om God vir enigiets om hulp te vra.
Toe Petrus op die water na Jesus toe geloop het, het die wind en die branders sy aandag gou afgelei. Hy het, soos ek, begin sink (Matteus 14:29–30). Maar die oomblik toe Petrus uitroep, “het Jesus sy hand uitgesteek (en) hom gegryp …” (vv. 30–31).
Wanneer ek vir ’n tyd lank so besig en afgetrokke was dat ek God uit die oog verloor het, voel ek altyd ek moet God vergoed. Dit is egter nie hoe God dit sien nie. So gou as wat ons terugdraai na Hom toe en Sy hulp vra, reik Jesus, sonder om te huiwer, uit.
Wanneer ons ons in die chaos van die lewe bevind, vergeet ons so maklik dat God saam met ons midde-in die storm staan. Jesus het vir Petrus gevra: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” (vs. 31). Jesus is by ons, ongeag ons omstandighede. Op daardie oomblik langs ons, binne-in die oomblik, gereed om uit te reik en ons te red.