Die gids is saam met ons na die rivieroewer waar ons ons reddingsbaadjies moes aantrek en die roeispane vat. Met die inklimslag het hy ons sitplekke vir ons aangewys om sodoende die boot se gewig te balanseer sodat dit stabiel sou bly indien ons in snelstrome beland. Nadat hy ons vertel het van die ekstase wat ons watertog inhou, het hy ’n reeks opdragte genoem wat ons kon verwag om te hoor – en sou moes volg – om die boot doeltreffend deur die witwater te stuur. Daar sou spanningsvolle oomblikke wees, maar ons reis sou opwindend en veilig wees.
Soms voel die lewe soos ’n witwaterkanovaart, met meer stroomversnellings as waarvoor ons dalk kans sien. God se belofte aan Israel, deur die profeet Jesaja, kan ons vrese besweer wanneer ons die ergste verwag: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie …” (43:2). Die Israeliete, wat vanweë hul sonde ballingskap opgelê is, het ’n oorweldigende vrees vir verwerping deur God in die gesig gestaar. Maar in plaas daarvan, erken Hy hulle en belowe Hy dat Hy met hulle sal wees omdat Hy hulle liefhet (vv. 2, 4).
God sal ons nie in woeste water alleen laat nie. Ons kan Hom vertrou om ons deur die snelstrome – ons diepste vrese en ons pynlikste situasies – te neem, omdat Hy ons liefhet en belowe om met ons te wees.