Ek is met groot haas en spoed die poskantoor in. Daar was heelwat dinge op my doenlysie, maar tot my uiterste frustrasie sien ek die lang ry wat tot by die deur strek. “Maak gou en wag!” het ek onderlangs gemompel terwyl ek na my horlosie kyk.
My hand was nog op die deurhandvatsel toe ’n bejaarde persoon my nader. “Ek kan nie die kopieerder aan die gang kry nie,” sê hy terwyl hy na die masjien agter ons wys. “Dit het my geld ingesluk en nou weet ek nie wat om te doen nie.” Ek het dadelik geweet dat God wou hê dat ek iets aan die saak moet doen. Ek het uit die ry getree en binne tien minute was die probleem opgelos.
Die man het my bedank en weggestap. Toe ek omdraai om weer in die ry te gaan staan, was daar nie ’n ry nie. Dit was weg. Ek het reguit na die dienstoonbank gestap.
My ondervinding daardie dag het my aan Jesus se woorde herinner: “Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word” (Lukas 6:38).
Die wagtydperk het korter gelyk omdat God my haas onderbreek het. Deur my oë op iemand anders se nood te vestig en my te help om van my tyd af te staan, het Hy my ’n geskenk gegee. Dít is ’n les wat ek keer op keer wil onthou – elke keer wanneer ek op my horlosie kyk!