Die Clifton Heritage National Park in Nassau, Bahamas, herinner ’n mens aan ’n tragiese era in die geskiedenis. Waar land en see mekaar ontmoet, is kliptrappe teen ’n krans uitgelê. Slawe wat in die 18de eeu dikwels hul gesinne moes agterlaat en per skip na die Bahamas gebring is, is met hierdie trappe na bo, waar ’n toekoms van onmenslike mishandeling op hulle gewag het. Heel bo is daar ’n gedenktuin vir dié slawe. Sederbome is uitgekerf in die vorm van vroue wat oor die see uitkyk na hul land van herkoms en die familie wat hulle agtergelaat het. Elke beeld vertoon die letsels van die slawekaptein se sweep.
Die standbeelde van hierdie vroue wat oor hul verlies treur, herinner my hoe belangrik dit is om die onreg en gebroke stelsels in die wêreld te erken en dit te betreur. Om te kla beteken nie dat ons sonder hoop is nie, maar eerder dat ons eerlik is teenoor God. Vir Christene behoort dit ’n bekende ingesteldheid te wees, want 40% van die Psalms is klaagpsalms, en in die boek Klaagliedere roep God se mense om Sy hulp nadat die vyand hul stad verwoes het (3:55).
Treur is ’n wettige respons op die werklikheid van lyding, en dit stel God midde-in die konteks van pyn en moeilikheid. In werklikheid vertoon ons klaagsange ons hoop: wanneer ons treur oor die verkeerde, roep ons onsself en ander op om ons aktief vir verandering te beywer.
En dit is waarom die gedenktuin in Nassau “Genesis” genoem word – die plek van jammerklagte word erken as die plek van ’n nuwe begin.