Toe Xavier jonger was, was my man dikwels weg van die huis af. Hoewel hy dikwels gebel het, was daar kere dat dit nie ons seun getroos het nie. Om hom te kalmeer het ek dan fotoalbums uitgehaal terwyl hy sy nagklere aantrek. Met my voorvinger op die foto’s waar hulle saam iets gedoen het, sou ek vra: “Onthou jy hiérdie keer?”
Die herinneringe het ons seun getroos, en hy het dikwels opgemerk: “Ek het ’n goeie pappa.”
Ek het begryp dat Xavier aan sy pa se liefde herinner moet word wanneer hy hom nie kan sien nie. Ék het dit ook nodig om te weet dat ek bemin word, veral deur my hemelse Vader, wanneer ek alleen voel en gespanne is.
Dawid het sy diep verlange na God verklaar terwyl hy in die woestyn weggekruip het vir sy vyande (Ps. 63:1). Lofsange is gebore uit sy herinneringe aan sy persoonlike ervaring van God se onmeetlike krag en vertroostende liefde (vv. 3–6). Selfs in sy donkerste nagte kon Dawid steeds roem in die liefdevolle sorg van sy betroubare Vader (vv. 7–8).
Wanneer ons in ons donker tye voel asof God nie naby is nie, is dit nodig dat ons herinner word aan wie God is en hoe Hy Sy liefde betoon. Nadenke oor ons persoonlike ervaring met Hom, asook Sy dade soos in die Skrif opgeteken, kan ons verseker van die tallose maniere waarop ons Abba, Vader, ons liefhet.