Toe ek Ada ontmoet het, het sy al haar vriende en familie oorleef en was in ’n versorgingsoord. “Dit is die moeilikste deel van oud word,” het sy gesê, “om te sien hoe almal jou agterlaat en aanbeweeg.” Ek het haar gevra waarin sy belangstel en waarmee sy haar besig hou. Sy het my geantwoord met ’n Bybelversie: “…want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” (Filippense 1:21). Toe sê sy: “Terwyl ek nog hier is, het ek werk om te doen. Op goeie dae praat ek met die mense om my oor Jesus, en op moeilike dae kan ek bid.”
Opmerklik, Paulus het Filippense geskryf terwyl hy in die tronk was. Hy het ’n werklikheid in die gesig gestaar wat baie Christene begryp wanneer hulle hulle sterflikheid aanskou: al is die hemel hoe aanloklik, maak die tyd wat ons oor het op die aarde, saak vir God.
Soos Paulus, het Ada ingesien dat sy met elke asemteug geleentheid gehad het om God te dien en verheerlik. So het Ada haar dae deurgebring deur ander lief te hê en hulle aan haar Redder voor te stel.
Selfs in ons donkerste oomblikke, kan Christene vashou aan die belofte van permanente vreugde in God se teenwoordigheid. En terwyl ons lewe, geniet ons gemeenskap met Hom. Hy vul al ons oomblikke met betekenis.