Wetenskaplikes is nogal puntenerig oor tyd. Die kundiges van die Goddard Space Flight Center in Maryland het aan die einde van 2016 die jaar met ’n ekstra sekonde verleng. As dit dus vir jou gevoel het asof die jaar ’n bietjie langer gesloer het, is jy reg!
Waarom het hulle dit gedoen? Omdat die aarde se rotasie algaande stadiger raak, word die jare net ’n ietsie langer. Wanneer wetenskaplikes mensgemaakte voorwerpe in die ruimte volg, moet hulle tydsberekening tot op die millisekonde akkuraat wees. Volgens een wetenskaplike is dit “om te verseker dat ons program om botsings te vermy, akkuraat is.”
Vir die meeste van ons maak een sekonde na die een of ander kant nie juis veel van ’n verskil nie. Tog, volgens die Bybel is ons tyd en hoe ons dit aanwend, belangrik. Paulus herinner ons in 1 Korintiërs 7:29: “… die tyd is min.” Ons tyd om God se werk te doen, is beperk, daarom moet ons wysheid aan die dag lê. “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd” (Efesiërs 5:16), waarsku hy ons.
Dít beteken nie dat ons soos wetenskaplikes elke sekonde moet aftel nie. Wanneer ons egter nadink oor die kortstondigheid van die lewe (Psalm 39:5), kan ons herinner word aan die belangrikheid daarvan om ons tyd met wysheid te benut.