Toe ek 13 jaar oud was, moes alle leerders in ons skool vier verkenningskursusse volg. Dit het huishoudkunde, kuns, koorsang en houtwerk ingesluit. Tydens my eerste koordag het die onderwyseres ons een vir een na die klavier geroep om na ons stemme te luister en ons dan volgens ons stemval na ’n bepaalde plek in die kamer gestuur. Ek het die note, wat sy verskeie kere gespeel het, gesing, maar ek is nie na ’n spesifieke plek in die klaskamer gestuur nie. Ná herhaalde probeerslae het sy my na die voorligtingskantoor gestuur sodat ek ’n ander kursus kon neem. Van toe af het ek gevoel dat ek glad nie moet sing nie, dat my stem nooit in sang gehoor moet word nie.
Ek het dit langer as ’n dekade geglo totdat ek as ’n jong volwassene Psalm 98 gelees het. Die psalmis open met die uitnodiging om “tot eer van die Here te sing” (vs. 1). Die rede daarvoor het niks met ons stemkwaliteit te doen nie, want die Here verlustig Hom in Sy kinders se dank- en lofgesange. Ons word uitgenooi om te sing omdat God “magtige dade gedoen” het (vs. 1).
Die psalmis verskaf twee wonderlike redes waarom ons God met blydskap in sang en houding kan loof: Sy reddende werk in ons lewens, en Sy voortgaande getrouheid jeens ons. Ons het elkeen ’n plek in God se koor sodat ons oor die wonderlike dinge wat Hy gedoen het, kan sing.