My vriendin wat kankerbehandeling ondergaan het, het my laat in die nag gebel. Haar onbeheerste snikke het my droewig gemaak. Ek het saamgehuil en stilweg gebid: Wat is ek veronderstel om te doen, Here?

Haar rou uitroepe het my aan die hart gegryp. Ek kon nie haar pyn verlig, haar uithelp of met ’n enkele verstaanbare woord troos nie. Ek het egter geweet wie wel kon help. Deur my eie snikke heen het ek oor en oor ’n gebed gefluister: “Jesus. Jesus. Jesus.”

Haar gehuil het sagter geword totdat haar asemhaling rustig geword het. Ek het geskrik toe haar man sê: “Sy slaap. Ons sal môre bel.”

Ek het die telefoon teruggeplaas en biddend in my kussing gehuil.

Die apostel Paulus vertel van ’n ander persoon wat ’n geliefde wou help. ’n Desperate pa het sy seun na Jesus toe gebring (Mark. 9:17). Twyfel oor die onmoontlike aard van hul omstandighede was hoorbaar in sy pleitrede (vv. 20-22), tog het hy sy behoefte dat Jesus sy geloof sou sterk, erken (vs. 24). Die pa en sy seun het bevryding, hoop en vrede ervaar toe Jesus beheer neem (vv. 25-27).

Dit is natuurlik om die regte dinge te wil doen en sê wanneer geliefdes ly. Christus is egter die Enigste wat ons regtig kan help. Wanneer ons Jesus se Naam aanroep, stel Hy ons in staat om te glo en op die krag van Sy teenwoordigheid te vertrou.