Nadat ek gegradueer het, moes ek by ’n streng kruideniersbegroting hou – R350 per week, om presies te wees. Terwyl ek op ’n dag agter in die ry inval, het ek vermoed dat my kruideniersware dié keer meer kos as waarvoor ek geld het. “Lui maar op totdat ons by R280 kom,” het ek die kassier gevra. Ek kon alles in my mandjie koop behalwe ’n sakkie rissies.
Net toe ek huis toe wou ry, het ’n man my voorgekeer. “Hier is jou rissies, dame,” het hy gesê en dit aangegee. Voor ek hom nog kon bedank, het hy al weggestap.
Wanneer ek aan die eenvoud van hierdie goeie en vriendelike daad dink, word my hart warm en onthou ek Jesus se woorde in Matteus 6. Hy het dit verag dat mense met groot vertoon aan armes gee (vs. 2) en het Sy dissipels op ’n ander manier gewys. Pleks dat hulle die fokus op hulself en hul vrygewigheid laat val, het Hy daarop aangedring dat dit so in die geheim geskied dat hul linkerhand nie eers bewus moet wees dat die regterhand uitdeel nie (vs. 3).
Dit gaan nie om onsself wanneer ons gee nie – dít het een persoon se anonieme goeie daad my geleer. Ons gee slegs op grond van wat ons vrygewige God so oorvloedig aan ons geskenk het (2 Kor. 9:6-11). Wanneer ons stilweg en oordadig uitdeel, weerspieël ons wie Hy is, en ontvang God die dank wat slegs Hy verdien (vs. 11).