Ek en my kleindogter Allyssa het ’n vasgestelde roetine wanneer ons groet. Met ons arms om mekaar huil ons met dramatiese snikke vir so twintig sekondes. Dan treë ons weg en sê: “Totsiens.” Ten spyte van ons lawwe speletjie verwag ons om mekaar gou weer te sien.

Maar soms kan die pyn van afskeid van dié vir wie ons omgee moeilik wees. Toe Paulus die ouderlinge van Efese gegroet het “[het almal] baie gehuil en hom omhels … Hulle was veral hartseer omdat hy gesê het dat hulle hom nie weer sal sien nie” (Handelinge 20:37-38).

Die diepste leed kom egter wanneer ons deur die dood geskei word en vir die laaste keer in hierdie lewe totsiens sê. So ’n skeiding lyk ondenkbaar. Ons rou en huil. Hoe kan ons dit verwerk om nooit weer dié wat ons liefhet vas te hou nie?

Steeds … ons treur nie soos ander wat geen hoop het nie. Paulus skryf van ’n weersiens vir hulle wat glo dat: “Jesus gesterwe maar ook opgestaan het” (1 Tessalonisense 4: 13-18). Hy verklaar: “Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel … weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal en die wat gesterf het en die wat nog lewe, sal met ons Here verenig. Wat ’n reünie!

En – ons sal vir ewig by Jesus wees. Dit is ’n ewigdurende hoop.