Die klein dogtertjie het uitbundig en grasieus met die musiek beweeg. Sy was die enigste een in die gang, maar dit het haar nie verhoed om te draai en swaai en haar voete te lig op die maat van die musiek nie. Haar glimlaggende ma het haar nie gekeer nie.
My gemoed het gelig en ek wou by haar aansluit – maar het nie. Ek het lankal die onskuldige uitdrukking van vreugde en wonder van kindwees verloor. Al is dit onvermydelik dat ons volwasse word en kinderagtigheid moet nalaat, was dit nooit bestem dat ons vreugde en wonder verloor nie, veral nie in ons verhouding met God nie.
Jesus het kindertjies verwelkom en dikwels na hulle verwys in Sy prediking (Matteus 11:25; 18:3; 21:16). Hy het Sy disippels aangespreek oor hulle ouers verhinder het om kinders na Hom te bring en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (Markus 10:14). Jesus het verwys na die kinderlike eienskappe wat ons gereed maak om Hom te ontvang – vreugde en wonder, maar ook eenvoud, afhanklikheid, vertroue en nederigheid.
Kinderlike wonder en vreugde (en meer) maak ons gereed om meer ontvanklik vir Hom te wees. Hy wag ons in met ope arms.