Toe ek die lokaal betree, sien ek die skare wat byeengekom het vir Oujaarsdag. Vreugde het my hart gevul toe ek die gebede van die vorige jaar onthou. Ons het saam getreur oor eiewyse kinders, die afsterwe van geliefdes, werksverliese en gebroke verhoudings. Maar ons het ook God se genade ervaar deur veranderde harte en herstelde persoonlike verbintenisse. Ons het oorwinnings, graduerings en doopgeleenthede gevier. Ons het kindertjies wat gebore, aangeneem of toegewy is aan die Here verwelkom en baie meer.
Terwyl ek peins oor die beproewings wat ons kerkfamilie deurgemaak het, baie soos Jeremia sy “ellende” en “vreemdelingskap” (Klaag. 3:19) onthou het, glo ek dat ons “deur die liefde van die Here … nie vergaan [het] nie; daar is geen einde aan Sy ontferming nie.” (vs. 22) Nes die profeet homself verseker het van God se getrouheid, troos sy woorde my: “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na Sy wil vra;” (vs. 25)
Daardie aand het elke persoon ’n uitdrukking van God se liefde verteenwoordig. Wat ookal in die toekoms op ons wag, kan ons as lede van die liggaam van Christus op die Here vertrou. Wanneer ons aanhou om Hom te soek, kan ons, net soos Jeremia, vind dat ons hoop deur geloofopbouende herinnerings aan God se onveranderlike karakter en betroubaarheid, gevestig word.