Nadat ek en my vrou bevoorreg was om die Louvre in Parys te besoek, het ek my elfjarige kleindogter, Addie, geskakel. Toe ek aan haar noem dat ons die beroemde skildery van da Vinci, die Mona Lisa, gesien het, was Addie se eerste vraag: “Glimlag sy?”
Is dit nie maar die grootste vraag rondom hierdie skildery nie? Meer as 600 jaar nadat Leonardo hierdie skildery op doek vasgelê het, weet ons nog steeds nie of die dame geglimlag het of nie. Alhoewel ons vasgevang word deur die skoonheid van die skildery, is ons nog steeds onseker oor die egtheid van haar voorkoms.
Die ‘glimlag’ is deel van die raaisel van die skildery. Maar hoe belangrik is dit tog in elk geval? Is om te glimlag dan iets wat in die Bybel genoem word? In werklikheid verskyn die woord minder as vyf keer in die Skrif en nooit as iets wat ons moet doen nie. Maar wat die Bybel wel voorstel en aanbeveel is dat ons ’n sigbare houding sal openbaar wat tot glimlagte kan lei. Die Bybel gebruik hiervoor die woord ‘vreugde’. Die woord kom byna 250 keer in die Bybel voor. As Dawid aan God dink dan sê hy: “My hart is vol vreugde” (vs. 7). In Psalm 33:1 sê hy: “Jubel in die Here” en in Psalm 119:111: “U verordeninge is vir my ’n vreugde.” Dit is duidelik – die vreugde wat God bied kan ons werklik laat glimlag.