Elke keer wanneer ek op die rand van die Grand Canyon staan, sien ek nuwe kwashale van God se skeppingswerk wat my asem wegslaan.
Al is dit slegs ’n baie groot “gat” in die grond, herinner die Grand Canyon my aan die hemel. ’n Opregte twaalfjarige het my op ’n keer gevra: “Sal dit nie vervelig wees in die hemel nie? Dink u nie ons gaan moeg word om God die heeltyd te prys nie?” As ’n “gat in die grond” so asemrowend is dat ons oë daarop vasgenael bly, kan ons ons slegs die vreugde voorstel wanneer ons die Bron van skoonheid – ons liefdevolle Skepper – in die vlekkelose wonder van die nuwe skepping sien.
Dawid het hierdie verlange só verwoord: “Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe” (Ps. 27:4). Niks oortref die skoonheid van God se teenwoordigheid wat na ons op die aarde uitreik wanneer ons Hom deur die geloof opsoek en daarna smag om Hom van aangesig tot aangesig te sien nie.
Wanneer daardie dag aanbreek, sal ons nooit moeg word om ons wonderbare God te loof nie, want ons sal nooit aan die einde kom van al die nuwe, vars ontdekkings van Sy uitnemende goedheid en die wonders van Sy handewerk nie. Elke oomblik in Sy teenwoordigheid sal ’n asembenemende openbaring van Sy skoonheid en liefde wees.