Dit was die eerste keer dat die tienjarige Cleo gaan visvang het. Hy het in die blik met die aas gekyk en gehuiwer. Uiteindelik het hy vir my man gesê: “Help my, E-I-B-V-W!” Toe my man hom vra wat verkeerd is, het Cleo geantwoord: “E-I-B-V-W! Ek is bang vir wurms!” Sy vrees het hom lamgelê. Hy kon nie optree nie.
Vrees kan ook volwasse mans lamlê. Gideon moet baie bang gewees het toe die Engel van die Here na hom toe kom waar hy besig was om koring uit te slaan in die parskuip waarin hy vir die Midianiete weggekruip het (Rig. 6:11). Die Engel het hom vertel dat God hom gekies het om Sy volk in die oorlog te lei (vv. 12-14).
En Gideon se reaksie? “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek Israel gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste ... en van my pa se kinders het ek die minste aansien” (v. 15). Hoewel die Here Gideon van Sy teenwoordigheid verseker het, was Gideon steeds bang en het hy vir tekens gevra dat God hom sou gebruik om, volgens Sy belofte, Israel te red (vv. 36-40). Die Here het dit laat gebeur soos Gideon gevra het. Die Israeliete het die stryd gewen en 40 jaar lank vrede gehad.
Ons het ook allerlei vrese – van wurms tot oorloë. Gideon se verhaal leer ons dat ons van een saak seker kan wees: As God ons vra om iets te doen, sal Hy ons ook die mag en krag daarvoor gee.