As jy my vertel het dat God ons ​​ervaring met my seun, wat in daardie stadium ’n heroïenverslaafde was, eendag sou gebruik om ander gesinne te bemoedig wat dié soort teëspoed in die gesig staar, sou ek dit skaars kon glo. God het ’n manier om die goeie uit moeilike omstandighede te laat voortspruit al is dit moeilik om dit te sien terwyl ons die proses deurloop.

Die apostel Tomas het ook nie verwag dat God iets goeds uit die grootste uitdaging van sy geloof sou voortbring nie – Jesus se kruisiging. Tomas was nie saam met die ander dissipels toe Jesus ná die opstanding aan hulle verskyn het nie, en in sy smart het hy daarop aangedring: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek nie ... sal ek nooit glo nie” (Joh. 20:25). Maar later, toe Jesus aan al die dissipels saam verskyn het, het God se Gees uit die stof van Tomas se twyfel ’n treffende stelling van geloof geïnspireer. Toe Tomas uitroep: “My Here en my God!” (vs. 28) het hy die waarheid begryp dat Jesus, wat hier voor hom staan, eintlik God in die vlees is. Dit was ’n dapper geloofsbelydenis wat gelowiges elke eeu daarna sou bemoedig en inspireer.

Ons God is magtig om vars geloof in ons harte te inspireer, selfs wanneer ons dit die minste verwag. Ons kan altyd uitsien na Sy getrouheid. Niks is te moeilik vir Hom nie!